VN June 2020

Vetnews | June 2020 29 immuunstelsels, het gelei tot verbeterde immuniteit van die reproduksie sisteem nadat diere intra-nasaal met ʼn sproei geënt is op die dag van kalwing. Die resultate van die proef het getoon dat daar nie net ʼn verhoging in spesifieke teenliggame ontstaan het nie, maar dat daar ook ʼn verhoging in die nie-spesifieke immuniteit stelsel verkry is. Die neussproei-entstof kan dus gesien word as ʼn immuniteitsmoduleerder wat die koei se algemene immuniteit gedurende die oorgangsperiode versterk. Die toediening van INFORCE™ 3 entstof in die neuskanale van die koeie op die dag van kalwing het die volgende getoon vergeleke met die onbehandelde groep koeie in die kontrole groep: • Verminderde getal koeie wat gevrek het of geslag is binne die eerste 60 dae na kalwing. • Daling van die persentasie koeie met mastitis binne die eerste 60 dae na kalwing. • Vermindering in getal koeie met agtergeblewe nageboortes. • Verminderde getal koeie met baarmoederontsteking na kalwing. • Vermindering van lugweg-geassosieerde siektes by die behandelde groep. Bees respiratoriese siekte (BRS) is ʼn komplekse sindroom wat ontwikkel a.g.v. stres, verlaagde immuniteit en veranderde bestuursomstandighede gedurende die tydperk in die dier se produksiesiklus, tesame met die betrokkenheid van verskeie virus- en bakterie spesies. Dit word verder gekompliseer deur ʼn toename (intensivering) van die aantal diere per oppervlakte en veranderde weersomstandighede. Die virusse wat hoofsaaklik ʼn rol speel in die ontwikkeling van BRS sluit in IBR (infeksieuse bees respiratoriese virus), PI3 (parainfluenza-3 virus), BRSV (bees respiratoriese sinsitiale virus) en BVD (bees virusdiaree). Die virusinfeksies is gewoonlik die primêre toetreders tot die ontstaan van longontsteking en dan volg die bakterieë soos Pasteurella, Mannheimia en Mycoplasma sekondêr. Die beskerming van die longe teen die virusse wat primêr die longe beskadig is dus noodsaaklik in die beheer van BRS. Die gebruik van die entstof, INFORCE™ 3, binne die neus van die koei op die dag van kalwing lewer binne 24-48 uur ʼn beskermende immuniteit in die boonste asemhalingsbane teen die bogenoemde virusse en dus beskerm dit die longe teen die sekondêre bakterieë en longontsteking wat volg. Die entstof lei tot produksie van (onder andere) IgA teenliggame wat die mees belangrike teenliggaam is wat beskerming verleen op die slymvliese van diere. Die slymvliese van die asemhalingsbane is die hoof indringingsroete en plek van vermeerdering van die virusse. Die entstof is veilig vir dragtige diere en kan selfs in dag-oud kalwers gebruik word sonder die benadeling van bies-immuniteit. Dit is ʼn belangrike hulpmiddel in die beheer van asemhalings siektes by kalwers en veral omdat die IBR virus baie prominent betrokke is by jong diere. Die BVD virus, wat uiters belangrik is t.o.v. asemhalingsiektes en ook reproduksie, is nie ingesluit in die entstof nie en daarom is dit belangrik dat die jaarlikse BVD enting gegee word. Die meeste BVD entstowwe bevat ook die ander virusse wat in INFORCE™ 3 teenwoordig is, maar die doel van die entstof in die vorm van ʼn neussproei is om baie vinnige lokale beskerming te verkry terwyl die dier se immuniteit onderdruk is en die siekterisiko hoog is. Die inspuitbare BVD entstof neem ongeveer 14 dae om immuniteit te verwek en bo en behalwe die beskerming wat verleen word teen BRS, speel dit ʼn belangrike rol om die dier in die reproduksie siklus te beskerm teen die ontstaan van permanent besmette diere (PI) asook om fetale resorpsie, aborsies en gebreklike kalwers te beperk. Die inspuitbare BVD entstof verskaf ook ʼn jaar lank beskerming wat veral belangrik is met veranderende weersomstandighede, ʼn verbygaande BVD infeksie of die teenwoordigheid van ʼn PI dier wat aangekoop of afkomstig is van bure. Met die gebruik van die entstowwe soos bespreek as hulpmiddels in die beheer van stres-geassosieerde toestande moet ons onthou van die belangrike rol wat voeding (proteïen, energie, verteerbaarheid, minerale) en veral spoorminerale speel. Die gereelde aanvulling van veral Cu, Zn, Mn, Se en Cr tesame met Vit A&E is uiters belangrik om die doeltreffendheid van die immuniteitsontwikkeling nadat die entstowwe toegedien is te verseker. Die spoorminerale speel verder ʼn baie belangrike rol in verskeie ensiemreaksies wat stres (oksidatiewe stres) beheer, hul is noodsaaklik in die ontwikkeling van die IgA teenliggame, dit verhoog die weerstand van die slymvliese waar die virusse die diere binnedring, dit bevorder algemene immuniteit (sistemies sowel as lokaal) met verlaagde somatiese seltellings en sub-kliniese mastitis, dit verhoog konsepsiesyfers en verkort die aantal oop dae op die manier. Om op te som kan ons, bo-en-behalwe die jaarlikse entings wat in die kuddebestuursprogram gebruik word, die bogenoemde hulpmiddels posisioneer om optimale beskerming te verkry gedurende die oorgangs-stresperiode. v Regulars I Zoetis pages

RkJQdWJsaXNoZXIy OTc5MDU=