VN August 2024

Vetnews | Augustus 2024 22 « BACK TO CONTENTS Meningstuk deur Dr Gerhard Giliomee, Stellenbosch Dierehospitaal Vir die privaat kleindier praktisyn het die kleinhandel (of Engelse ”OTC”) deel van praktyke onlangs ingrypende veranderinge gesien. Supermark groepe soos Shoprite/Checkers, Woolworths en FLM (Food Lovers Market) besit reeds sowat 300 spesialis dieresorg winkels, wat hulle in direkte kompetisie plaas met praktyke se tradisionele “oor die toonbank” besigheid. Weens die winkelgroepe se tipiese gerieflike ligging (langs ‘n supermark in baie gevalle), lang besigheidsure en goeie pryse het hulle reeds ‘n beduidende markaandeel afgerokkel van tradisionele veeartseny praktyke. Buiten die groot hoeveelheid supermark “VetShops”, plaas aanlyn winkels en dienste,“dr Google”, kunsmatige inteligensie (KI) en die huidige stand van die Suid-Afrika se ekonomie verdere druk op praktyk inkomste en winsgewendheid. In Junie se uitgawe van VetNuus sê dr Paul van der Merwe ons professie bevind hom tans weens verskeie redes op ‘n kruispad en moedig hy SAVV lede aan om op te staan om ons professie te red. Praktykbestuur is nie almal se belangstelling nie en is ‘n vakgebied op sy eie. Hierdie skrywe fokus nie daarop nie. Dit is eerder gerig op elke hardwerkende veearts wat van mening is sy professionele inkomste is tans minder as sy of haar verwagting. Deur bewus te wees van wat tans in ons bedryf aangaan en hoe om onsself daardeur kan bestuur, kan ‘n wesenlike impak op ‘n veearts se finansiële gesondheid hê. Eerstens is dit belangrik om op hoogte te bly van die gedurige veranderinge wat in ons bedryf plaasvind. Die meer onlangse is: • Die “veterinêre kanaal” kleinhandel soos ons dit die afgelope 30 jaar geken het bestaan nie meer nie. Soos reeds genoem, elke groter dorp of stad in ons land het reeds ‘n supermark spesialis dieresorg winkel of daar gaan binnekort een kry. Die supermarkte se groot bedingingsmagte (vir laer aankooppryse, rebatte en betaalde rakspasie) is nie aan praktyke beskikbaar nie en privaat veeartse gaan nooit met hulle kan kompeteer met prys nie. • Veterinêre groothandelaars se inkomste is onder druk en hulle is ook nie meer so “veearts eerste” ingestel soos in die verlede nie. Groothandelaars verkry al meer alleen verspreidingsregte op sekere handelsname. Die gevolg is die verwydering van kompetisie tussen groothandelaars, tot nadeel van die privaat praktyk wat nou net prysnemers geword het. ‘n Onlangse internasionale dierekos toetreder het buiten die alleen verspreidingsreg ook die bemarking van hul produkte aan een groothandelaar uitkontrakteer. Dit is ‘n groot stap weg van die verlede, waar groothandelaars met mekaar net op diens en pryse kompeteer het. • As ons gaan volg wat reeds in die VSA en VK gebeur het, gaan die meerderheid groter praktyke binne die volgende tien jaar besit word deur korporatiewe groepe. Dit mag praktykbestuur versterk en bedingingmag (vir goedkoper produkte en dienste) verbeter, maar dit is nie noodwendig wat ons kliënte verkies nie. In die VSA dui onlangse navorsing daarop dat 65% van veearts kliënte steeds verkies om na kleiner nie-korporatiewe praktyke te gaan vir dienste.* • Kunsmatige inteligensie is die nuwe gonswoord en veroorsaak reeds groot omwentelinge by die mediese spesialiteite soos radiologie en patologie (vinniger, akkurater en goedkoper as die spesialis), maar gaan na my mening privaat veterinêre praktyke tot ‘n mindere mate beïnvloed. Die dier moet in die eerste plek hanteer word (gewoonlik die veearts se rol) en ons gebruik eerder net KI om diagnoses (met bv sitologie) te bespoedig tydens konsultasies as waar KI ons moontlik kan vervang. Wat is die aanpassings wat nodig is om privaat veeartse se relevansie (en inkomste) in die toekoms te verseker? Hier is ‘n paar idees wat na my mening oorweeg kan word: • Behou jou fokus op die professionele dienste deel van jou praktyk. ’n Onlangse lesing geborg deur die SAVR (“The journey from price to value –putting diagnostic fees under the microscope”) het goeie voorstelle gemaak hoe jou kliënte voel hulle kry goeie waarde vir die dienste deur jou gelewer. Gebruik jou diagnostiese masjienerie (mikroskoop, X-strale, ultraklank, bloedchemie masjiene, ens) waar daar ‘n aanduiding daarvoor is. Gebruik biologiese middels vir artritis en atopie waar die kliënt dit kan bekostig. Biologiese middels bied gerief aan die kliënt (geen daaglikse medikasie toediening), newe-effekte is skaars en die impak op die mediese toestand is meestal dramaties. Gebruik geregistreerde veterinêre middels teenoor die goedkoper generiese produkte wat net vir menslike gebruik registreer is (soos deur wetgewing vereis word). Oorweeg promosies soos ‘n tandheelkunde maand, waaruit die praktyk, pasiënt en eienaar voordeel kan trek. • Deurlopende en deeglike kliënt kommunikasie is belangrik en is dikwels die grootste faktor wat die kliënt gaan laat voel daar word waarde gebied. Die veearts bly die beste persoon in jou praktyk om met kliënte te kommunikeer. Die tradisionele “veterinêre kanaal” is dood en dit plaas praktyk inkomste onder druk. Wat nou? Letter to the Editor

RkJQdWJsaXNoZXIy OTc5MDU=