VN August 2022
Vetnuus | August 2022 28 HULDEBLYK AAN ANNE FRASER (GEBORE DE VOS) 10 Mei 1954 – 27 Maart 2022 Anne Pienaar Fraser (Anne) is op Sondag 27 Maart 2022 in die ouderdom van 67 jaar oorlede na verskeie jare se stryd teen ‘n rare tipe leukemie wat haar loopbaan as toegewyde veearts en rol as ma en ouma kortgeknip het. Sy is in haar tuisdorp Ladybrand in ‘n begrafnisdiens, wat sy in haar laaste dae self gekoreografeer en van ‘n roerende klankafskeidsboodskap voorsien het, ter ruste gelê. Sy het daarop aangedring dat geen huldeblyke tydens die geleentheid voorgedra word nie, maar dat daar slegs op haar onwrikbare geloof as Christen gefokus word. Anne is in 1954 op Waterval Boven gebore, het in 1970 aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool, Pretoria met vyf onderskeidings matrikuleer en in 1975 met ‘n BVSc-graad aan die Onderstepoort Veterinêre Fakukteit gradueer. Tydens haar studies het sy ‘n medaljetoekenning as beste student in varksiektes verwerf. Sy het ‘n deelnemende, waarderende benadering tot die studentelewe gehad. Anne is in 1976 met medestudent Adam Fraser, ‘n plaasseun van Ladybrand se omgewing in die Vrystaat, getroud. Die egpaar het een dogter en drie seuns gehad. Anne het kort na graduering ‘n praktyk in die destyds veeartslose Ladybrand gevestig waarby Adam hom na hulle troue aangesluit het. Sy het aanvanklik hoofsaaklik die troeteldieraspekte van die praktyk behartig terwyl Adam die plaasdiere hanteer het. Na Adam se tragiese dood in ’n voertuigongeluk in 1996, het ‘n vennoot vir 13 jaar die plaasdierwerk behartig, maar daarna, tot sy om gesondheidsredes afgetree het, het Anne self diemas opgekom. Nie dat sy nie ‘n liefde vir plaasdiere gehad het nie. Soos haar moeder, het sy baie graag perd gery. Die liefde het begin terwyl sy nog op hoërskool was. Die betrokke perd het saam met haar ma se ander perde later op die Frasers se plaas beland waar Anne hulle en hulle nageslag, volgens menige begrafnisfotos, nie net self benut het nie, maar ook met groot vreugde aan haar kinders en kleinkinders voorgestel het. In haar fleur het sy met oorgawe as ruiter aan die bekende perde-uithouritte by Fauresmith en elders deelgeneem en was sy ook veral betrokke as geregistreerde toesighoudende veearts. Sy het ook in later jare die beesboerdery en ‘n Arabierstoet op die plaas bestuur. Anne was ‘n entoesiastiese lid van verskeie groepe en takke van die Suid-Afrikaanse Veterinêre Vereniging. Haar grootste bydrae tot die georganiseerde strukture van haar beroep was haar intensiewe betrokkenheid by die regulatoriese aspek, wat groot lof verdien. Sy is in 2004 deur die lede van die veterinêre professie as lid van die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad (SAVR) verkies en het aanvanklik op die Raad se Opleidingskomitee gedien. In 2007 word sy voorsitter van hierdie komitee, ‘n pos wat sy tot 2013 beklee. Vanaf 2013 tot 2018, toe sy om gesondheidsredes uittree, dien sy as voorsitter van verskeie ander komitees, soos die Raad se Transformasiekomitee en Spesialiskomitee. Sy word in 2010 as vise-voorsitter van die SAVR verkies en vul hierdie pos tot 2013. In postume huldeblyke oor haar betrokkenheid by die SAVR word sy as besonder bekwaam, uitsonderlik toegewyd, baie hardwerkend en deurgaans onselfsugtig en nederig beskryf. Sy het ook in die SAVR se portefeuljeposisie vir streshantering gedien en met haar deernisvolle benadering ‘n blywende indruk op mederaadslede en SAVR-personeel gemaak. Anne se ontydige heengaan laat ‘n pynlike leemte by haar kinders en kleinkinders, oorlewende broer en susters en almal wat die voorreg gehad het om haar te leer ken. v Rudolph Bigalke & Albertus de Vos
Made with FlippingBook
RkJQdWJsaXNoZXIy OTc5MDU=