VN October 2021
Vetnuus | Oktober 2021 28 EULOGIE: PROF DOUW GERBRAND STEYN Prof. Douw Gerbrand Steyn is op 14 Augustus 2021 aan Covid verwante oorsake oorlede enkele maande voor sy 95ste verjaarsdag en ook kort voor hy en Elize hulle 70ste huweliksherdenking sou kon vier. Dit was ons voorreg om hom te leer ken en saam met hom te kon werk toe hy as dosent by die Chirurgie Departement aangesluit het en ook later onder hom as Hoof van die departement. Ek sal dit altyd waardeer dat hy as hoof, toe ek hom versoek het om voortaan niemeer chirurgie tedoenniemaarmynet opRadiologie toe te spits, sonder teëstribbeling daartoe ingestem het. Dit was ‘n belangrike keerpunt in my lewe. Hy sou ook as Hoof die idee van diversifikasie, of dan spesialisasie, deur die dosente in sy Departement heelhartig aanmoedig. Hy kon onderhoudende staaltjies vertel van sy vandaankomplek erens daar in Upington se droë geweste asook van sy latere praktyk-ondervindings as jong veearts in Vereeniging se kontrei en was spitsvondig soos min. ‘n Finale jaar student het hom eenkeer gevra watter dele van die Chirurgie kursus “and all that jazz” hulle vir die eksamen moes ken toe kap hy hommet “yes, and the classics too!”. Ons het saam nagraads studeer, ook Anatomie as byvak. Op daardie stadium was daar slote gegrawe op die kampus waar hy die een donker aand laat van die Anatomiesaal na sy kantoor moes teruggaan. Toe ek hom die volgende oggend uitvra oor al sy kwesplekke deel hy my toe mee dat hy in‘n sloot te lande gekom en “jy weet mos, met diè soort van val kry jy nie klaar geval nie”. Hy het ook ‘n interessante manier van behoud van studiemateriaal gehad deur alles in sy verbeelding oral uit te pak op die rakke, stoele, vensterbanke ensovoorts van sy kantoor. Na sy aftrede het ons kontak met hom behou deur hom af en toe tuis te besoek hier in Pretoria of net te skakel met sy verjaarsdag of hulle huweliksherdenking. Hy het waarlik sy volle kwota van gesondheidsprobleme, teenspoede en teleurstellings in die lewe gehad maar was kenmerkend altyd blymoedig. Sy leuse was “as die lewe jou platslaan dan staan jy maar net weer op en gaan aan”. Elise se gesondheid het in die laaste tyd, en veral na ‘n ongeluk op ‘n roltrap, baie agteruit gegaan en het sy ook onlangs Covid opgedoen. Hy was intens besorg oor haar maar kon darem verdere sorg vir haar reël in ‘n versorgingseenheid voor sy heengaan. Ons sou homook tydens sy lang aftrede leer ken as iemandmet vele talente en bekwaamhede. ‘n Perfekte “Grandmaster” staanhorlosie en allerlei meubels was bewys van sy houtwerkvernuf. Teen die mure was groot kleurvolle tapiserieë wat hy voltooi het. Saam met Elise het hulle oral langs ons kuslyn skulpe versamel en uitgeruil met ander belangstellendes. Hulle omvattende versameling het hy klassifiseer en met sy aangeleerde kennis daarvan asook van die kamera, rekenaar en Photoshop program die skulpe nie net fotografeer in kleur nie maar ook beskryf en saam met ‘n mede- outeur in 2 waardevolle gesaghebbende boeke publiseer. ‘n Nuwe skulp, Mitrella steyni, wat hulle ontdek het is dan ook na hom vernoem. Na hierdie uitsonderlike prestasie het hy ook aandag bestee aan semi-edel gesteentes en was begeesterd deur die rotsformasies waargeneem in Namibia tydens hulle besoek aldaar. Ook hieroor wou, en dink ons het hy, ‘n boek geskryf. En as dit alles nie genoeg was nie het hy ook aangesluit by ‘n fotografieklub en begin met voëlfotografie. Hiermee sou hy met sy baie beperkte toerusting egter nie na wense vorder nie want “hulle sit mos net nooit lank genoeg stil nie!” Sy laaste onvervulde wens was om nog eenkeer die Krugerwildtuin te kon besoek om ‘n buffel mooi af te neem. ‘n Ware heer, gelowige, aangename en onderhoudende gespreksgenoot en liefhebber van die natuur. Volgens hom was hy heel waarskynlik die laaste oorlewende lid van sy finale jaar klas. Van ons was hy ook die laaste van ons ouer akademiese voorgangers. Ons eer sy nagedagtenis. v Neels Roos & Ingrid Wolleschak
Made with FlippingBook
RkJQdWJsaXNoZXIy OTc5MDU=