VN February 2021
Vetnews | February 2021 3 Van die President Gegroet, kollegas! 2021 het regtig met spoed begin! Op die veeartsenyfront floreer die inwendige en uitwendige parasiete, saam met die aansteeklike siektes wat deur hulle oorgedra word gedurende die somerhitte na die welkome reën. Dit lyk of slenkdalkoors ‘n bedreiging is en wie weet wat sikloon Eloise gaan agterlaat. Daar was ook ‘n aantal kommerwekkende gevalle van hondsdolheid in die Oos-Kaap, beide in die Komgadistrik naby die Keirivier en rondom Blouwaterbaai naby Port Elizabeth. Die SAVV, saam met ons Oos-Kaap en Karootak, het hulp aan die Oos-Kaapse departement van landbou sowel as die nasionale departement (DLGHLO) aangebied om met lede te kommunikeer en so kapasiteit te bou, sowel as om voorligting rakende hierdie dodelike siekte aan die publiek en die media te gee en weer die belangrikheid van inenting te beklemtoon. Die tweede vlaag van die COVID-19 pandemie gaan onverpoos voort, gepaard met kommer oor die nuwe stam en die groter virulensie daarvan. Die SAVV, BVF, SAVR en DLGHLO is bekommerd oor die weglating van veeartse en die para-professies uit die lys van noodsaaklike werkers wat gedurende Fase 2 van die COVID-19 ingeënt sal word ingevolge die plan wat die Departement van Gesondheid op 7 Januarie vrygestel het. Dis veral vreemd in die lig daarvan dat ons wel ingesluit was as noodsaaklike dienste in die Maart en April 2020 COVID regulasies. Die SAVV het op 11 Januarie ‘n epos aan die Ministerie van Gesondheid en die Ministerie van Landbou gestuur waarin ons verduidelik het waarom veeartse en ander dieregesondheidswerkers wel noodsaaklike werkers is en die COVID-19 risikos waaraan veeartse en hul kliënte blootgestel is, met die versoek dat hul die weglating sal regstel. Ons het ‘n antwoord van DLGHLO ontvang maar, terwyl ek hierdie skryf, nog niks van die Departement van Gesondheid gehoor nie. Die SAVV het op 21 Januarie nog ‘n brief aan die Departement van Gesondheid en DLGHLO gestuur na aanleiding van die artikel deur Dr Rebone Moerane in die Daily Maverick oor hoe veeartse ‘n bydrae tot die bestuur van die COVID-19 pandemie kan lewer. Ons het ons steun aan die regering aangebied met ‘n verduideliking van die ervaring en vaardighede wat veeartse het met die hantering van viruspandemies. Ons het weer geen reaksie van die Departement van Gesondheid ontvang nie, maar is opgewonde om te kan aankondig dat die SAVV, saam met die BVF en SAVR, uitgenooi is na ‘n vergadering met die eerbare Minister van Landbou, Me Toko Didiza, op 27 Januarie om ons gedagtes rakende veeartse en die para-professies as noodsaaklike werkers vir die COVID-19 inentingsveldtog, sowel as veeartseny betrokkenheid by die bestryding van die pandemie met haar te deel. Ons het tydens ‘n maraton “zoom” vergadering op 24 Januarie, aangebied deur die SAVR en bygewoon deur 23 afgevaardigdes van die SAVV, SAVR, BVF, die Fakulteit, DLGHLO, ARC-Onderstepoort, OBP en SASVEPM hiervoor voorberei. Hierna het verskeie werkgroepe verder aan spesifieke aspekte van ons voorlegging gewerk. Die vergadering was uiters suksesvol en produktief, met positiewe terugvoer van die Minister. Die DLGHLO sal ons saak om as noodsaaklike werkers erken te word by die Departement van Gesondheid en die COGTAaanvoer, en sy is ook opgewonde oor ons voorstel vir die daarstel van ‘n Ministeriële Veeartsenykunde Advieskomitee (VAK). Die SAVV was bevoorreg om heelwat blootstelling vir die vereniging en die professie te bewerkstellig, beide op TV, deur eNCA en eTV nuus, radio, via SAFM, Talk Africa en RSG, en die gedrukte media in die Argus. Onderwerpe wat aangespreek was het bostaande twee punte ingesluit, sowel as die vuurwarm onderwerp oor die gebruik van ivermektien vir die voorkoming en behandeling van COVID-19 in mense. Dank aan Katya van Nfluence Media (geborg deur V-Tech) en die SAVV besturende direkteur Gert Steyn wat die blootstelling gefasiliteer het.Die ivermektiendebat het ons in ‘n interessante posisie geplaas. As SAVV moet ons ons lede adviseer dat ivermektien as veemiddel onder Wet 36 slegs vir die gebruik in diere in Suid-Afrika geregistreer is. Dis verder ook onwettig vir veeartse om medikasie vir menslike gebruik te resepteer. Soos wat daar meer inligting oor die effek van ivermektien as onderdrukker van RNA-virusreplikasie bekendgemaak is, het die aanvraag vir hierdie oor- die-toonbankproduk die hoogte ingeskiet. Veeartse word deur kliënte, vriende en kennisse genader vir advies oor die gebruik, of die verskaffing van ivermektien. Dit sal beter wees as voornemende menslike gebruikers advies oor die regte dosisregime van die mediese professie kry as dat hul verkeerde inligting van leke by die koöperasie of ‘n boer kry. Medici sal dit natuurlik vanaf ‘n gesonde wetlike basis wil doen. Ons het reeds gevalle van ivermektienvergifting gesien by mense wat ‘n oordosis van ‘n 3,15% ivermektien oplossing ingeneem het in plaas van die dosis van 200µg per kg liggaamsgewig van die 1% oplossing. Die SAVV besturende direkteur Gert Steyn en ek het gehelp om die Hoofveearts, Dr Mike Modisane, toe te rus met die jongste navorsing oor ivermektien en COVID-19, wat hy aan ons Minister en die Departement van Gesondheid kon voorlê. Die Departement van Gesondheid het erken dat daar goeie vordering op hierdie gebied is, en die SA Raad op Gesondheidsprofessies het opWoensdag27 Januarie ook positief gereageer deur die gebruik van ivermektien teen coronavirus in mense voorwaardelik goed te keur. Dit sal die mediese professie help om mense se versoeke vir ivermektien te hanteer. Die Minister van Landbou het die veeartsenyprofessie gevra om insette aan die regering te stuur oor hoe ons hierdie nuwe verwikkeling sal hanteer en terselfdertyd sal verseker dat daar steeds voldoende ivermektien vir behandeling van diere beskikbaar sal wees. Veeartse kan dus nou met geruste hart navrae van mense na die mediese professie verwys, en ook steeds voortgaan om voornemende gebruikers teen die gevare van die wangebruik van hierdie medikasie te waarsku. Die SAVV mentorskapbestuurder, Annalie McCallum, werk hard aan die opleidingsprogram (wat ook opleiding deur sielkundige Greg Wilmot insluit) vir ons nuwe en groter groep mentors. Ons wil graag die VGD veearste, wat dikwels unieke uitdagings in die gesig staar, so ondersteun. Ons sien ook uit na die geleentheid wat aan die SAVV gebied is om met die Fakulteit in gesprek te tree oor die keuringsproses van nuwe veeartsenystudente. Besturende direkteur Gert Steyn, Vise-President Paul van der Merwe en ek ontmoet Prof Dietmar Holm op 24 Februarie om klarigheid te kry oor die detail van die keuringsproses en om die moontlike bydrae van die SAVV tot die optimisering van die proses, te bespreek. Dankie aan al ons lede en kollegas vir jul ondersteuning en bydraes gedurende hierdie moeilike tyd. Die getalle van die pandemie kry nou name, en die name is van mense al nader aan ons. Ons dink aan en bid vir almal wat geliefdes verloor het. Mag hul siele in vrede rus. Ons moet voortgaan om saam te werk en mekaar te ondersteun. Ons glo dat ons Here sal voortgaan om ons te seën, te beskerm en te lei terwyl ons ons hoop op Hom plaas. v Die uwe in samewerking en Geloof! Leon
Made with FlippingBook
RkJQdWJsaXNoZXIy OTc5MDU=