VN April 2020
Vetnuus | April 2020 12 Met die dood van Joseph van Heerden het die Suid-Afrikaanse veterinêre professie een van sy grootste staatmakers verloor. Die leemte wat hy laat sal moeilik, indien ooit, gevul kan word. Joseph is op 29 Januarie 1948 op die plaas Progress, distrik Koopmansfontein, Noord-Kaap, gebore en word as plaasseun groot op Pienaarsfontein, distrik Boetsap. Hy matrikuleer in 1965 aan die Noord-Kaapse Hoër Landbouskool en behaal BVSc in 1970 aan die fakulteit te Onderstepoort. Na ʼn kortstondige verblyf as staatsveearts in Ondangwa, Namibië, is hy tot 1975 aan ʼn privaatpraktyk in Welkom in die Vrystaat verbonde. Gedurende 1976 studeer hy voltyds aan UP en behaal BSc(hon)(Natuurlewebestuur) met lof. Daarna aanvaar hy ʼn lektoraat in geneeskunde aan die fakulteit te Onderstepoort, studeer verder, behaal in 1982 die MMedVet in interne geneeskunde en registreer as spesialis by die SA Veterinêre Raad. In 1982 word Joseph as eerste hoof van die departement geneeskunde vanMedunsa se fakulteit veeartsenykunde aangestel. In 1987 verander die benaming na “Companion Animal Medicine and Surgery”. Joseph aanvaar hierdie uitdaging met sy tipiese toewyding en entoesiasme en werp hom heelhartig in die opbou van die departement. Ten spyte van al sy doseer- en administratiewe verpligtinge ruim hy tyd in vir navorsing en aanvaar ook die redakteurspos van die Tydskrif van die SAVV. Terselfdertyd onderneem hy ʼn veeboerdery op sy erfplaas. Die gesin besoek die plaas een naweek per maand en bring vakansies daar deur. In 1994 was Joseph tydelike dosent in “Clinical Veterinary Studies” aan die Universiteit van Zimbabwe se fakulteit veeartsenykunde. Hy tree talle kere as eksterne eksaminator in verskeie vakgebiede aan die UP fakulteit op. Joseph was promotor van vier M-kandidate en eksterne eksaminator van 8 MMedVet-verhandelings, tot so onlangs as 2014. Sy veelbelowende akademiese loopbaan word egter in 1994 onverwags en dramaties kortgeknip. Studente wat herhaaldelik hereksamens druip, beskuldig hom daarvan dat hy oneerlik met punte sou gewees het. Terwyl die aantyging ondersoek word, word Joseph versoek om langverlof te neem en nie die kampus te betree nie. Die hele aangeleentheid frustreer hom uitermate en hy dien sy bedanking in. Daarna tree Joseph vir etlike maande as spesialis-konsultant op voordat hy in 1995 ʼn algemene praktyk in Kimberley oorneem. Een ligpunt is dat hy nou baie nader aan sy geliefde plaas is. In Kimberley bedryf Joseph ʼn hoogstaande gemengde praktyk en lewer uitstaande diens oor die hele spektrum: van kleindiere en perde, tot vee en, in ʼn toenemende mate, ook wild. Na 20 besige jare begin dit duidelik word dat sy gesondheid nie meer van die beste is nie en begin Joseph hom geleidelik aan die praktyk onttrek. Die praktyk word deur twee jong kollegas oorgeneem en Joseph en Doretha vestig hulle op die plaas, waar hy alles behalwe rustig aftree! Benewens die boerdery wat intussen aansienlik uitgebrei het en baie aandag verg, besoek hy Pretoria gereeld vir Vereniging- en Raadsake. ʼn Lang verblyf op die plaas was hom nie beskore nie. Kort na ʼn geslaagde heupvervanging in die winter van 2019 word lewerkanker by hom gediagnoseer. Hy is op 10 Februarie 2020 oorlede en op sy plaas ter ruste gelê. Joseph se bydrae tot die professie was enorm. Hy het hom o.a. as navorser onderskei. Sy eerste wetenskaplike publikasie, ʼn verslag oor botulisme onder watervoëls op die Vrystaatse Goudveld, verskyn reeds in 1974, toe hy nog as privaat praktisyn werksaam was. Joseph publiseer altesaam76 artikels in vaktydskrifte, op enkele uitsonderings na as hoofouteur. Hiervan was 41 navorsingsartikels en 35 gevalverslae van hoë gehalte. Dit is ʼn verstommende uitset, veral as in ag geneem word dat hy slegs 17 jaar (1977-1994) in ʼn akademiese pos was. Joseph het hom ook as praktiese klinikus onderskei. Hy het groot moeite gedoen om seker te maak dat sy diagnoses korrek en die behandeling toepaslik was. Dit het dikwels heelwat laataand-naslaanwerk en ondersoek geverg. Hy het sy kundigheid vrylik met kollegas gedeel. As uitstekende en onderhoudende spreker het hy tallose CPD-lesings by SAVV-tak- en groepvergaderings gelewer. Ek onthou met deernis sy gewoonte om die gehoor, ongeag geslagsamestelling, as “gentlemen” aan te spreek. Joseph het ook groot moeite gedoen vir kollegas wat met moeilike gevalle om hulp aangeklop het. Dit is nooit aan die groot klok gehang nie. Joseph se aktiewe betrokkenheid by die SAVV begin in 1982. Hy dien vantoeaftotmetsyafsterweopdieFederaleRaad,asverteenwoordiger van die Wildsgroep (1982-1991), as verkose lid (1991-2007), en daarna as SAVV-verteenwoordiger op die SA Veterinêre Raad. Hy was 1987- 1995 redakteur van die Tydskrif van die SAVV, en tree enkele jare gelede weer in die bres na die afsterwe van dr Colin Cameron. Hy dien ook op die Toekenningskomitee, die Grondwetkomitee, ens. Joseph was feitlik sinoniem met die SAVV-Wildsgroep. Onder sy voorsitterskap, sedert 1982, het die groep behoorlik gevestig geraak en aansien in die professie begin geniet. In die 1980s word die eerste simposiums gereël: oor buffels, die gebruik/misbruik van strignien en die gebruik van verdowingsmiddels in wild. Kort opleidingskursusse oor immobilisasie word ook deur die Groep gereël. Die Groep beywer hom ook vir die totstandkoming van die Price-Waterhouse-leerstoel vir wildstudie aan die UP-fakulteit. En so hou die lys net aan. Joseph was 1982-1995 en weer 2000-2010 voorsitter van die Wildsgroep. Uit erkenning vir sy reusebydrae tot hierde vakgebied ontvang hy in 2010 die Wildsgroep se Lycaon-toekenning. Joseph ontvang ook die Huldeblyk: Joseph van Heerden >>> 13
Made with FlippingBook
RkJQdWJsaXNoZXIy OTc5MDU=